Skemer is ‘n ander tyd
Tyd wat nie van hierdie wêreld af is nie:
Geleende tyd, gesteelde tyd.
Dis hierdie tyd wanneer ek my weerloosste voel.
As ek hier sit en ek voel hul oë op my,
As ek hier sit en hul stemme weergalm nog in my kop,
As ek hier sit en ek hoor hul gelag rondbons in die verdonkerende naghemel.
Dan voel ek die trek.
Ek hoor die sagte ruiseling van water op sand
Ek voel die wind pluk pluk aan my lyf
Ek verstaan haar begeerte, haar moedeloosheid, haar finaliteit.
‘n Enkele ster knipoog daar bo, dalk net so alleen soos ek.
Daar ver ry ‘n kar verby, daar’s mense daar!
Maar daar’s ‘n mens hier ook!
Daar’s ‘n mens hier ook.
En ek voel die trek
Ek hoor die water roep
Ek verstaan haar finaliteit.
Ek loop die sussende stemme in.
Dit is nou donker.
En ek verstaan, ver daar bo skyn ‘n volmaan.
Maar dit is reeds donker.
|
Email this Poetry
|
Add to reading list






