Chapter 3:

  • Facebook
  • Twitter
  • Reddit
  • Pinterest
  • Invite

Status: Finished  |  Genre: Religion and Spirituality  |  House: Booksie Classic

Reads: 240

 9

 

Dit is etenstyd en hy glip gou om die hoek na die hotel toe om enetjie te gaan sluk. Mag nie eintlik in werksure drink nie, sal maar sê hy het ñ kliënt uitgevat. Dit is eintlik lastig dat hy nou in die dag ook lus voel vir ñ dop, maar nou ja. Dit is donkerig in die plek. ñ Ou man sit voor hom en staar, die barman poleer ñ glas.

  Dinge gaan nie so goed by die werk nie. Sy konsentrasie is af, en hy bly alewig agter met sy papierwerk. Elke keer as hy voor die rekenaar gaan sit, voel hy gedryf om net gou weer te sien wat nuut is op die porno webbladdens.

  'Ai, daardie vrouens maak my mal!' Hy voel sommer hoe hy warm word, sluk gou aan die koue bier. 'In die plek van ñ koue stort' glimlag hy ietwat bitter.

  Hy begin skuldig voel oor Adri. Sy is eintlik ñ goeie vrou, en nog mooi ook. Sy doen dit net nie meer vir hom nie. In die begin was hy dankbaar vir haar groot liefde, en al die aandag, sy ouerhuis was nie juis daarop ingestel nie. Sy ma was neuroties, en teruggetrokke, nie spraaksaam nie, alhoewel sy gesien het dat hy versorg word. Sy pa was ñ groot man wat dikwels nie tuis was nie, en wanneer hy dagskof gewerk het, laat in die aande op waggelbene by die huis gekom het. Hy het hard gewerk op die Spoorweë, en was skaam oor sy min geleerdheid, al het hy so ñ goeie brein gehad. Die frustrasie was altyd daar, en hy het dit dikwels op die slim skraal seun uitgehaal. Sy tong was gemeen, veral met ñ paar doppe in. Daar was ook ñ definitiewe element van kompetisie omdat die seun so goed gevaar het. Gelukkig het Frans ñ beurs kon verwerf, met die hulp van sy Skoolhoof, en universiteit toe kon gaan, waar hy uitstekend gedoen het, en ook, verrassend vir hom, baie populêr was met die meisies. Dit het hom goed gedoen, hy het beter gevoel oor homself en sy manlikheid. Dit was op hierdie stadium dat hy by die gym begin oefen het, en sy gespierde lyf het bygedra tot sy sjarme. Sy pa is in sy derde jaar oorlede in ñ ongeluk by die werk, en het nooit sy seun sien gradueer nie. Sy ma het by haar suster gaan bly in ñ klein dorpie, en hy het haar min gesien daarna.

  Toe het hy vir Adri ontmoet. Sy was fyn en selfbeheersd. Pynlik netjies, stiptelik, al haar werk altyd gedoen. Sy het hom rustig gemaak met haar stil maniere. Sy was ook warm en liefdevol. Sy het sy wasgoed vir hom begin doen, kos vir hom begin maak by haar woonstel. Toe sy en Mika oorsee was daardie jaar het hy haar ontsettend gemis, en slegs dae na haar terugkeer het hy haar gevra om te trou. Hy wou haar besit en seker maak sy kom nie weer weg nie. Dit is haar verjaarsdag oor ñ paar maande. Sy het dit in sy dagboek met rooi omkring. Hy weet daar word iets van hom verwag, maar hy is nie lus nie, en voel in elk geval soos ñ verraaier.

  Dit is môre Saterdag, en hy raak opgewonde as hy dink aan die Blue Tangerine. Hy kon vir ñ paar naweke nie gaan nie, omdat hy te besig was. Hy het vir die poppie belowe hy sal daar wees. Eintlik hou hy meer van haar maat. Miskien sal sy hom toelaat om met haar in sy kar te  parkeer. Dit was meer gemaklik in die hotel die ander aand, maar eintlik opwindend om iewers in die donker te gaan vroetel. Dalk kan hulle by Klapperkop opgaan, of  daar by Tom Jenkins. Miskien sal hy ñ bietjie sjampanje in die kattebak sit, en dan kan hulle dit saam geniet.

 

 

10

 

Hy mis Eden. Die wye ruimtes, sy groentetuin. Vir Lena, en haar wit glimlag, vir Thabo, sy swart broer, met wie hy grootgeword het, sy oupa. Hy dink al vir dae aan hom. Wil met hom gesels, vir hom vertel hoe dit gaan. Die plaaslyn werk dikwels nie, en hy weet daar is nie ñ rekenaar op die plaas nie. Sy oupa laat die boeke op die dorp doen, en kan nie die nut insien van hierdie byderwetse nuwe uitvindsel nie. Hy het ook nie ñ sel nie, en voel dat die telefoon in die gang al is wat hy nodig het.

  'Wonder hoe geniet Thabo dit om ñ pa te wees? Kannie glo my speelmaat het al ñ gesin nie.' Dit was net nou die dag toe hulle nog lekker kaal in die dam saam geswem het. Hy onthou die keer toe Thabo ñ kramp gekry het in albei sy bene, amper verdrink het, en hy hom wal toe gevat het. En die keer toe hy op ñ geroeste stuk draad getrap het in die veld, en Thabo hom al die pad huis toe geabba het.

  Hy lê op sy bed met sy hande agter sy kop. Sy lenige lang lyf is heerlik uitgestrek, sy nommer twaalfs hang oor die voetenend. Hy deel ñ klein huisie met ñ hele paar Suid Afrikaners, en dit laat hom minder alleen voel. Daar is ñ mooi foto van Mika in haar studio op die tafeltjie langs sy bed.

  Die stad Cardiff is vir hom soos ñ droomwêreld, en hy is hartstogtelik verlief daarop. Die ou strate, en geboue, histories en mooi. Die interessante winkels. Hy was al ñ paar maal by die kasteel, en hou daarvan om in die groot park daar naby te gaan stap. Hy is versot op die hawe, en die seemeue wat in die strate sit en oor die geboue sweef. Een van die dae gaan hy en sy maats met ñ motor na die Lake District toe. Na ñ plek met die naam van Keswick. Daar is ñ kursus in die area oor ou wapens wat hulle gaan bywoon, en hy is opgewonde daaroor. Hy stel al lankal daarin belang, en het boeke uitgeneem oor die onderwerp toe hy op Hoërskool was.

  Hy het lanklaas met sy ma gepraat. Hy weet sy is besig om reg te maak vir die uitstalling, en dat sy dan gewoonlik nie regtig beskikbaar is nie. Hy neem haar nie kwalik nie, hy verstaan haar passie vir skilder. Toe hy by die huis was het hy maar vir hulle kos gemaak as dit sulke tyd was. Hy glimlag. Sy is eksentriek, maar hy laaik dit. Enig in haar soort. Sy was altyd cooler as al die ander ma's. Hy onthou toe sy die retro scooter gery het, en hom kom optel het by die skool, met haar rooi hare soos ñ vlam onder haar helmet. Hy glimlag wyd.

  Sy sê haar winkel doen goed, en hy is bly. Geld was nie altyd so volop toe hy op skool was nie, maar sy het seker gemaak daar is kos op die tafel.

  'So van kos gepraat.' Beter gou Tescoe's toe gaan en bietjie groceries koop. Sy maag grom. 'Mens kan net so lank op Gregg's se pasteie leef.' Hy moet ook die pakkie gaan haal wat sy ma vir hom gestuur het, wonder wat daarin is?

  In die poskantoor staan hy ongeduldig in die ry. Die man voor hom staan saggies en fluit. Die dame agter die toon bank is uiters vriendelik en beleefd, en gaan haal flink sy pakkie. Hy is opgewonde, dit is groot en bonkig. Toe hy dit oopmaak buite op ñ bankie op die plein, is hy oorstelp.

  'Billltong! Lena se beskuit!!' “Nee!” sê hy vir die seemeeu wat ewe kordaat by sy voete kom land, “sorry, dis myne!”

 

 

11

 

Die dae gaan sleepvoet om vir Adri. Na haar ontdekking van die hotel faktuur het sy half in ñ depressie gegaan. Sy het die aand met Mika kon gesels. Dit het haar ñ bietjie gehelp, maar sy kan nie die heeltyd van Mika verwag om haar te babysit nie. Mika is nou op haar kuns ingestel, en die Vrydagaand kuiers is nie op die oomblik op die kaarte nie.

  Naweek na naweek gaan verby sonder Frans. As hy by die huis is, is hy stug en kortaf. In die bed lê hy vêr aan sy kant, met sy rug na haar. Ten spyte van haar afsku en agterdog praat die hormone maar nog. Sy het vir haar nuwe swart deurskynende nagklere gekoop, ten duurste, by ñ boetiek by Brooklyn Mall. Dit ñ paar keer aangeglip, maar dis of hy blind is. Sy het haar verjaardag datum in rooi pen in sy dagboek omkring, net sodat hy weet. Daar is nog geen sprake van ñ trippie iewers nie, om die waarheid te sê hy is baie geheimsinnig. Miskien beplan hy ñ surprise vir haar. Beter om nie te vra nie.

  By die werk is sy soos ñ outomaat. Dokter Bester het haar al ñ paar keer aangespreek, en behandel haar met meer van ñ houding as gewoonlik. Sy het nie lus vir die vloedgolf van pasiente wat net nie ophou nie. Sy het verlede jaar nie vakansie geneem nie, want hulle ander kantoordame was in die hospitaal, en nou voel sy of sy dit dringend nodig het. Dis nie dat sy nodig het om te werk nie, Frans bring genoeg huistoe. Dis net dat sy gefrustreerd geword het by die huis, vandat Bianca op hoërskool is. Sy is in elk geval halfdrie by die huis meeste dae. Bianca se vriendin se ma laai haar gewoonlik af, so dit werk goed uit.

Sy is bekommerd oor Bianca. Dit ruik na rook in haar kamer. Sy voel skuldig dat sy op die oomblik self rook, maar weet dit sal nie vir altyd wees nie. Laas Vrydag het sy baie laat van die fliek af gekom, en was nors toe Adri haar wou uitvra oor die aandjie.

  'Ek wil net wys ek stel belang. Nie soos in my huis waar die kommunikasie minimaal was nie. Pa was dikwels sonder werk, en Mammie het voldag gewerk om na ons om te sien. Ek was ñ onsigbare kind.'

  Sy onthou die winter toe sy nie skoolskoene gehad het nie, en met haar helderkleurige sandale skool toe gestap het. By die skoolhek het sy die sandale in haar tas gesit, en maar die res van die dag kaalvoet met haar winters uniform by die skool rondgestap. Dit het haar bitter skaam gemaak, maar sy het geweet Mamma het nie geld nie, en wou haar nie vra nie. Darem was sy die slimste in die klas, en al het die nare Sally Bredenkamp vir haar gespot, het sy altyd die beste punte in al die vakke behaal, so. Haar broer het een oggend gesien hoe sy die sandale uittrek, en het seker vir haar ma gesê, want ñ paar dae later was daar ñ nuwe paar skoolskoene op haar bed.

  'Ons het dit nooit bespreek nie, soos soveel ander dinge. Ek moet haar weer bel, vir haar ñ geldjie in haar rekening sit. Ek is bly ek kan haar ondersteun, veral nou dat sy ñ weduwee is. Ek mis nogal vir die oukêrel. Al was hy my stiefpa, was hy al pa wat ek geken het, foute en al. So bly hy het hom bekeer voor sy dood.'

  So gaaf dat Ouma vir haar ñ polis uitgeneem het, anders sou sy wraggies nooit kon geswot het nie. Die jare op universiteit het haar goed gedoen. Sy was ñ goeie student en het hard gewerk, goeie punte behaal. 'Snaaks hoe baie dinge in my en Frans se verlede dieselfde is. Daardie boek “Women who love too much” noem dit nogal. Moet hom weer optel.' Sy was skamerig vir die mans. Haar stiefpa het haar nie gewys hoe om met mans te kommunikeer nie. Toe Frans kom het sy haar hele hart vir hom gegee. Die jaar oorsee was wonderlik, maar sy het hom nie vir ñ oomblik vergeet nie. Daar was geleenthede om met ander mans uit te gaan, maar sy het werklik nie belang gestel nie.

  Hulle was ñ paar jaar getroud voordat Bianca gekom het. Sy het twee miskrame gehad, wat haar emosioneel baie omgekrap het. Sy het getreur omdat sy haar kindertjies nooit sou ken nie.

  'Ek wonder of ons vir berading moet gaan. Miskien by FAMSA of dalk die Pastoor. Nie dat Frans juis daarvan sal hou nie. 'Hy steur hom nie aan die kerk nie, gaan met Pase en Kersfees, as sy daarop aandring. Haar eie geestelike lewe is vir ñ ruk lank al droog soos stof. Sy het ñ verandering nodig, het nodig om stil en alleen iewers te wees. Haarself weer te vind. Sin te maak van hierdie goed waarmee Frans besig is. Haar lewe voel soos ñ groot waggelende seepbel, wat enige oomblik gaan bars.

  Haar baas se hoë nasale stem dring tot haar deur.

  “Adri! die pasiënt wag. Kry vir ons ñ Vitamin B inspuiting reg asseblief. Ek dink ons moet sommer vir jou ook een gee, maggies. Dit is duidelik dat jy dit nodig het!”

  Etenstyd koop sy vir haar ñ toebroodjie by die kantien, en gaan sit buite in die tuine. Sy werk ñ voldag, want die ander dame het die dag af. Dis Julie, en die middagson is warm en vriendelik. Sy gaan sit op ñ bankie onder ñ kaal boom. Die sonstrale streel haar ooglede, tog voel sy mistroostig en grys binne in haar siel.

  'Ek dink ek moet ñ facelift gaan kry. Dalk is dit die antwoord. Miskien sal hy dan na my kyk. Hierdie keep tussen my oë word by die dag dieper, en my oogsakkies word al hoe groter. Dalk sommer my lyf ook doen. Ek kan voel hoe hang my boude. Om nie van my boobs te praat nie. Ek kan net nie van die selluliet op my maag en bene ontslae raak nie, kan doen wat ek wil. Ek kan ook nie bekostig om te veel te verloor nie, dan val my gesig in. Ek het nooit gedink ek sal op hierdie plek kom nie.'

  Sy kyk op en sien ñ laaste blaar wat aan die boom hang. Dit dwarrel sweef sweef tot op die grond. Sy tel dit op, en vryf dit stukkend tussen haar vingers terwyl sy terugstap na haar werksplek. 'So voel ek,' dink sy, 'klaar met die wêreld, van nul en gener waarde meer nie.'

 

 

12

 

Oom Niklaas sit by die geelhout tafel in die kombuis na aandete. Hy het die honde kos gegee, al die lywe gevryf, en hulle lê knus naby die stoof. Nou en dan is daar ñ geknor en skuifel, en ñ stoot en stamp vir die beste plek by sy  voete, maar hulle is oor die algemeen rustig. Die baie katlywe vul die mandjie, want Liefiekat se babas het met rasse skrede gegroei. Gemmerkat sit op die tafel langs en amper op die boek wat die Oubaas lees.

  Niklaas is al vir ñ lang tyd geïnteresseerd in profesie, en het heelwat boeke en informasie oor die ou Bybelse profete, die Boere profete; die geliefde Siener van Rensburg, en sy tydgenoot Johanna Brandt, en verskeie hedendaagse profete bymekaar gemaak.

  Die boek wat hy lees gaan oor ñ Amerikaner, Rick Joiner, wat  allerhande visioene vir sy volk en die wêreld gekry het. Dikwels het hy die visoene self beleef, asof hy daarin is, deel neem. Oom Niklaas bestudeer al baie jare hierdie profeet se werk, wat nie maklik ontsyferbaar is nie. Hy voel ñ groot aanklank by hom en ñ diep respek.

  Hy stoot sy silwer bril hoër op sy neus, krap sy baard. “Ou Gemmerkie, skuif op toe, Kat. Hoe moet ek nou lees?”

  Oom Niklaas staan op. Die groot boerboel wat buite waghou, ñ gespierde brindel, met ñ humeur en oë net vir oom Niklaas, blaf lank en hard. Hy is die offisiële waghond, en het ñ houthuis  by die agterdeur.

  'Wonder wat dit is, moet kyk.' Hy gaan staan buite by die hond, vroetel met sy ore.“Wat is dit, Leeu? Wat gewaar jy?”

  Die rante lê kaal en wyd, met hoër pieke hier en daar. Daar is ñ grot in die berge waar Oom Niklaas en sy broers gespeel het toe hulle kinders was. Igna en sy maters het van tyd tot tyd daar gaan kamp, maar hyself was baie lanklaas daar. Hy sien iets flikker, verdwyn, en dan weer flikker verder aan.

  'Vreemd? Baie vreemd!' “Nag my ou Staatmaker,” sê hy, vryf oor die hond se gespierde rug, en gaan peinsend by die agterdeur in met die klaps van die gaasdeur reg agter hom. Hy sluit die deur versigtig, en hang die sleutel aan die hak by die ander. ñ Jakkels se huilsang klink in die verte.

'Daar is weer ñ vergadering by Mooi Vallei môre aand. Moet ñ goeie nagrus inkry, want die dagboek is vol.

  Na die draai by die badkamer lees hy in Esegiël, waaruit die Here diep en lank met hom praat. Dan ñ stukkie uit sy gunsteling Psalm 103. So ver as die ooste van die weste is, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons. Soos ñ vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here hom oor hulle wat Hom dien.

  Hy kliks die lamp af, rol rond tot hy gemaklik is. Party aande is die verlange na Suzanna vir hom amper te veel. Haar sagte vrouelyf, haar asem op sy wang...

  Daar is die klank van ñ dieselmouter in sy oor. Hy glimlag stilweg in die donker, trek die wollyfie nader aan hom. “Goed dan, nag ou Gemmerkie.”

  Die volgende dag is baie besig. Sy stoetbul lyk nie goed nie. Die veearts moes kom kyk en dit was ñ bondel geld. Die voer is amper op en hy moes gaan laai op ñ naburige dorp. Thabo het nie opgedaag nie, sonder om iets te sê, en die bakkie is weg. 'Seker weer met sy maats. Maar ek het hom nodig, dis onverskoonbaar.' Thabo se stadsvrou het hom nors aangekyk toe hy haar uitvra, en wou nie regtig met hom praat nie.

  Gelukkig is daar nog die goedige ou Benjamin. Hy is gewillig, en kan darem die beeste veld toe vat en terug bring, en ñ ogie hou, maar daar is soveel ander take wat verrig moet word.

  Niklaas kom al baie jare saammet Ben. Hul verhouding is een van wedersydse vertroue en respek. Klokslag in die middag, na sy russie, stap die ou swart man met sy stok om die beeste te gaan haal. Hy is mank, en stap nie vinnig nie, tog kla hy nooit nie, en bring geduldig sy kant.

  Die aand kom nie gou genoeg nie. Die son gaan onder toe hy in sy Isuzu klim en na sy buurman se plaas ry.

  “Ons moet ons sekuriteit nog verder opskerp,” Sê oom Gert. Sy wenkbroue is swaar, en sy swart oë flits gevaarlik. “Daar moet meer wees wat ons kan doen. Ons moet ook meer saamwerk. Ek weet ons nasionale leuse is dat ñ Boer ñ plan kan maak, maar daar is ook tye wanneer saamstaan die beste is. Ek het op iets afgekom wat julle sal interesseer.”

  Die sirkel mansgesigte om die kaggel lyk soos ñ Hollandse skildery....skaduwees val en flikker oor hulle gelaatstrekke, jonk, middeljarig, met hier en daar ñ ouer man, oom Niklaas se portuur.

  “Daar is mense wat beweer dat daar ñ rewolusie in die land gaan kom. Hulle het hulle oë en ore wyd oop. Daar is blykbaar soldate in die veld gevind, op ñ hele paar plekke, wat besig is om te oefen vir  hierdie rewolusie. Dit is duidelik so rooi soos Vader Krismis se tosselkeps! Daar is ook heelwat uitlatings deur swart leiers en sprekers in die media, wat definitief daarop sinspeel. Mens hoef maar net na die nuus te luister, dit is so duidelik soos daglig. Soos ons almal weet word die gepeupel elke dag nog ñ bietjie verder opgejaag. Hulle haat hulle eie regering, en wil dit uit die weg ruim. Kyk net na die voormalige leier van die Jeugliga, en die dinge wat hy kwytraak. Dit is duidelik dat daar ander magte en agendas agter sy uitlatings is. Nasionalisasie, my voet!! Ek glo nie ons het die laaste van hom gehoor nie. Karring mos nou ook met die mynwerkers en selfs die Weermag. Hy het baie slegte saad gesaai onder die jeug. Kill the Boer, my genade!!! Wie sal dan die massas voer?? Hierdie mense dink ook nie verder as hulle eie heblus nie. Wil die wit man se huise en karre vat. Verstaan seker nie dat meeste wit mense se goed aan die banke behoort nie. Gaan hulle die paaiemente op alles betaal wat hulle steel? Dalk sal hulle my twede verband by my oorneem! Ga!! Dit is lagwekkend!! Maar die swart jeug het niks om te verloor nie. Hulle is honger, en werkloos, en oop vir enige iets.”

  Oom Gert steek sy pyp op. Die mans brom onder hulleself en lyk bekommerd.

  “Maar, hoe sal dit ons raak?” sê een bonkige jong man, Wessel Wessels van Diepkloof. Sy mense boer al vir geslagte in die area, en is wel bekend en gerespekteerd.  “Hoe ver dink jy sal dit gaan?”

  “Wel, daar word gesê dat die rewolusie die hele land sal raak. Elke huishouding sal aangetas word. Die lorries sal ophou loop, daar sal tekorte aan petrol en kos wees. Nog meer, daar sal burgeroorlog wees. Die strate sal vloei met bloed. Elke witmens sal moet vlug vir sy lewe. Rassehaat se vlamme sal hoog opskiet en baie verteer. Daar is artikels gevind op die Net deur buitelandse politiese skrywers wat duidelik uitspel dat die wit man nie meer welkom is in Suid Afrika nie. Tik net “white slaughter” in op Google, en sien waarop jy afkom. Dit is diabolies!!! My seun het my dit gewys.”

Oom Niklaas staan op. Hy gaan staan by die kaggel met sy gesig na die kring bekommerde gesigte.

“Wel, vriende,” sê hy, “hierdie dinge is al baie jare gelede voorspel deur profete. Ons geliefde Omie Siener van Rensburg, wat baie dinge gesien het, ook die “Nagaanval op Johannesburg,” dalk het julle al van hom gehoor. Ook Johanna Brandt, sy tydgenoot, Reverend Beaumont van New Zealand, en onder andere die Amerikaanse profeet, Rick Joiner het soortgelyke visoene gesien. Ek bestudeer vir ñ lang tyd al sy werk, en glo dat hy ñ ware man van God is. Hy het ñ groot bediening in die V.S.A, en ook wêreldwyd. Hy het ñ visoen gehad wat hy “The Coming Catastrophe” genoem het, waar hy in Mei 1993 gesien het hoe etniese geweld uitbreek in Suid Afrika. Swart op wit, swart op swart, soveel so dat die Verenigde Nasies met hande saamgeslaan gestaan het, en niks kon doen nie. Om die waarheid te sê daar is ñ hele koor van stemme van profete, lewendig en dood, wat hierdie dinge gesien het en gespreek het. Sommige van hulle het ñ positiewe nadraai gesien.”

  Hy gaan voort en vertel van die profete se visioene en ervarings. Die mans luister aandagtig, en vra heelwat vrae. Party is skepties, en bevraagteken die rol van profesie.

  “Ek het gisteraand gevoel die Here lei my na Esegiël, en sy waarskuwings aan die volk van God. Ek glo dat hierdie goed wat gaan kom, deels die oordele van God oor ons land is. Dit is ñ roep van Hom aan ons om onsself te bekeer, terug na Hom te draai, mekaar te vergewe. Ons bruidskleed aan te trek, ons lampe te vul. Ons sonde en materialisme en afgodediens agter te laat, en voor Hom te buig. Om ñ Ark van Geloof te bou, in Christus, sodat ons veilig kan vaar oor hierdie donker waters wat kom. Net Hy kan ons bewaar en beskerm, mense! Al die verskriklike dinge wat Esegiël moes voorspel het waar geword in daardie dae. Deur ongehoorsaamheid en hardnekkigheid het daardie volk so te sê alles verloor.”

ñ Stilte val oor die groep. Dit is duidelik dat sy woorde hulle diep geraak het.

  Toe Niklaas by die huis kom gaan sit hy in die donker by die kombuistafel, laat sak sy kop, en stort bitter trane. Met groot geloof en diep versugtinge tree die ou boer in vir sy

volk wat hierdie donker dae, en moontlike uitwissing in die gesig staar.

 

 


Submitted: June 30, 2013

© Copyright 2020 Huldah. All rights reserved.

Chapters

  • Facebook
  • Twitter
  • Reddit
  • Pinterest
  • Invite

Add Your Comments:

Other Content by Huldah

Book / Religion and Spirituality

Book / Religion and Spirituality