Chapter 4:

  • Facebook
  • Twitter
  • Reddit
  • Pinterest
  • Invite

Status: Finished  |  Genre: Religion and Spirituality  |  House: Booksie Classic

Reads: 434

13

 

Tante Johanna staan voor die deur van Die Pouveer. Haar netjiese jas pas goed. Sy het ñ wolmussie op haar kop wat by haar kleurskema pas. Sy lyk selfs meer mollig in die dik wintersklere.

  “Tik tik,” teen die ruit. “Tik tik!” Mika se glimlaggende gesig sonder grimering doem agter die glas op. “Ek kom!” Sy draai die sleutel, maak die deur op ñ skrefie op.

  “Glip gou binne Tante, dit is vrieskoud, nê?”  Tante Johanna skuifel in en is dankbaar toe Mika die deur dadelik agter hulle toemaak.

  “Ek weet,” sê Mika, en druk die stewige lyfie hartlik, “tee vir jou, en beskuit! Kom sit. Ek gaan die verwarmer vir jou aanskakel.” Sy maak die tee, en skuif weer in aan die oorkant van die klein tafeltjie. “Hoe gaan dit?”

  “Baie goed met my. Ek het só verlang, ek moes net weer die kleinkinders kom sien. Hulle word so vinnig groot, en ek mis hele stadiums van hulle ontwikkeling. Hulle moet darem ook nie van Oumie vergeet nie nê? Hoe gaan dit met jou pa?”

  “Goed dankie. Ek dink die winter is maar altyd moeilik. Ek het vir Paps gesê van Tante. Hy kon dit nie glo nie. Hy onthou jou! Sê jy het sulke lang goue vlegselkies gehad, wat hy graag wou trek. Hy onthou van jou opvoerings, sê jy was baie begaafd. Sing Tante nog?”

  “Ja, ek is steeds baie lief daarvoor.” Sy glimlag speels, gooi haar kop agteroor en uiter ñ helder hoë noot. 'Ek wou ñ opera sanger ook word, dit was een van my drome!”

  Mika skater van die lag. “Uitstekend! Oppas net vir my spieëls asseblief! Wat maak Tante die naweek?”

  Johanna skud haar kop. “Ek is maar by die kinders. Hulle gaan baie uit wees want daar is heelwat aan die gang. Hoekom vra jy?”

  “Ek gaan Saterdag middag plaas toe, om vir Vader te gaan kuier. Wil Tante nie dalk saam kom nie? Wanneer laas was Tante in daardie kontrei?”

  Johanna druk haar silwer haartjies reg, wat ñ bietjie plat is na die mussie, vee oor haar wenkbroue. “Genade Kindjie, ek kan mos nie sommer net op jou pa afpak nie. Wat sal hy van my dink?”

  “Paps ontvang graag gaste Tante, ek dink hy is ñ bietjie alleen. Hy het al sy diere om hom, maar nogtans.”

  Tante Johanna sit peinsend. “Sê jou wat, gaan doen jou dingetjies, los my dat ek ñ bietjie daaroor nadink. Dis bietjie vinnig op my af nou, reg so?”

  “Geen probleem nie. Ek moet my gesiggie gaan opsit. Sit rustig, hier is nog warm water as Tante dit nodig het.”

  Die volgende middag laai Johanna se seun haar by die sentrum af. Sy het ñ tassie by haar, en ñ jas en sambreel. Sy lyk mooi in sagte pienk, met lippies presies die kleur van haar rok. Mika let op dat haar hare gesny en gedoen is.

  Die rit is gesellig Heidelberg toe. Mika los die sunroof toe, bedag aan die tante se mooi kapsel. Johanna vertel in kleur en geur staaltjies uit haar kinderjare, asof ñ groot lêer van onthou skielik oopgeval het. Mika geniet dit en luister stilweg met ñ glimlag en ñ kopknik. Toe hulle op die grootpad naby die plaas kom vertel die tante stories van die kontrei. Wie waar gebly het, en “my maggies, maar daardie bloekombos het gekrimp.” En “O, hier is nog ñ nuwe pad.”

  Tante Johanna dring aan daarop om die hekke oop en toe te maak, en spring flink uit die motor uit. “Ek is mos ñ plaasmeisie!” Sy het ñ slag, en het min moeite met die  swaar hekke. Hulle stop langs die groot groen imposante trekker. Mika sien dat Johanna se hande bewe.

  Die agterdeur klaps en Niklaas kom veerkragtig aangestap, Leeu by sy hakke. “Sit, Oubaas,” sê hy, “sit!” Die hond gehoorsaam dadelik, kyk met langtong liefde na sy baas en gaan lê met sy kop op sy pote.

  Niklaas glimlag wyd. “Dag, mens dag! Kan jy dit nou glo?” Hy vat haar hand toe in syne, sit sy ander hand op haar skouer, en kyk haar gemoedelik aan met sy omlynde warm bruin oë. “Jy het niks verander nie, behalwe die vlegsels is af!” Tante Johanna se hele gesig is vol bly kreukeltjies. “Jy is ñ vleier, sê sy, “en jou skouers is nog net so breed soos altyd!”

  Oom Niklaas is besig om biltonge op te hang, en Johanna spring dadelik in en help hom, terwyl hulle geheime resepte uitruil. Daar is ñ groot gelag en geskerts uit die buitekamer, en Mika glimlag stilweg by haarself. Daardie aand verkneukel sy haar aan die twee tydgenote, wat die verlede weer hede maak, en gesellig sit en ginnegaap oor familie en kennisse, baie van hulle lankal nie meer in hierdie lewe nie.

  Sondag na hulle middagrussie stap die twee seniors na die begraafplaas. Mika was vroeg die oggend alleen daar, en lê rustig en droom onder haar pienk dogtertjie deken. Die week was straf, en hierdie is vir haar ñ groot luukse.

  Daar gekom stop hulle by Suzanna se graf, staan vir ñ paar minute in gemoedelike stilte. Niklaas buk af en krap ñ paar verlore blare bymekaar, hark die wit klippies met sy vingers. Johanna gaan sit op die mosaïekbankie wat Mika een jaar gemaak het met die herdenking van haar Mammie se heengaan. Oom Niklaas kom sit met ñ suggie langs haar, en maak sy oë toe.

  “Ek sien jy het boeke oor profesie in die kombuis. Weet jy,” sy leun na hom toe, praat sagter, “ek sê dit nie gewoonlik vir mense nie, maar God praat met my oor dinge. Vandat ek jonk is al. Daar is een van my drome wat dui op ñ rewolusie in ons land. Dit was verskriklik....ek droom ek hardloop in ñ voorstad met my kleinkinders, een op my arm, en een aan my hand. Daar was bloed en geweld orals, en hordes mans wat rondhardloop, plunder en verkrag. Ek kon vir dae na die droom nie praat nie, dit was verskriklik!!!Ek het ook ander visioene en drome gehad in dieselfde lyn.”

  Niklaas sit regop. Hy draai sy lyf na haar en kyk haar vir lang oomblikke ondersoekend aan. “Ek het volle vertroue in die rol van ñ ware profeet. Kyk net na Jeremia, Jesaja, om net twee te noem. En dit wat jy nou genoem het!!”

  Hy vertel haar van die vergadering, en die informasie wat Gert ontdek het. “En nou kom jy hier op Eden aan, nog ñ boodskapper! Dit is soos ñ legkaart,” sê hy opgewonde, “en al die stukkies is besig om in mekaar te pas. Dit is vir my amper te veel.”

  Hy vryf oor sy silwer hare, en maak regop veertjies op sy kop. Staan op en stap knarts knarts op en af in die paadjie, met sy hande agter sy rug. “Wat wil Vader sê?” wonder hy hardop.

 “Ja,” sê tante Johanna, staan op, en hak by hom in,  “wat wil Vader vir ons sê??”

 

 

14

 

Bianca is bekommerd oor haar ma. Sy staan voor die spieël, en druk aan ñ groot puisie. “Ag, nee, nog een!” Druk haar tong in haar kies. 'Sy praat amper nooit meer nie, sien my nie raak nie. Wonder of sy in menopause is?'

  Sy en Cindy en die seuns gaan weer vanaand na die Blue Tangerine toe. Hulle was al ñ paar keer daar, en dit was amazing....'So lekker om onder die ligte te dans..en die cool musiek. Ai, waar was ek al die jare. Dit is net die beste!'

  Sy trek aan die vel onder haar wenkbrou, pluk aan die fyn haartjies. 'Wonder of ek ñ masker op my neus moet sit?' Haar klere lê netjies reg op die bed, in die ander

sinds deurmekaar kamer. Die haardroër is ingeprop, en die tang lê reg om haar hare glad te stryk.

  Haar Blackberry lui. Dis Kobus. “Sorry, maar ek kan nie die kar kry vanaand nie. My ma gaan ook uit. Moet asseblief nie vies wees nie, okei? Ek is ook eintlik gehok want my Wiskunde punte was so sleg. Ek sal jou weer bel, oukei? Love you.” Hy stuur soentjies oor die foon. “Jy is sexy, onthou dit.”

  Sy glimlag, maar voel teleurgesteld toe sy die sel op die bed gooi.

  'Ag nee, wat nou!' Sy het so uitgesien na dans, die hele week al! Sy gryp weer die foon en bel Cindy.

  “Jy sal dit nie glo nie, wat sal ons doen? Michael het my ook gedump. Wat gaan met ons ouens aan?” “Ek het spesiaal ñ funky top gaan koop.”

  “Ag nee! Maar,” en Cindy fluister geheimsinnig.. “ek het ñ plan.” “Wat?” sê Bianca, en oefen ñ danspassie, kyk vir haarself in die spieël, “sê my gou!”

 

Die meisies giggel. Bianca het uit die huis gekruip, “baai” geskree toe haar ma op die rekenaar was, en met die pad afgestap waar sy haar vriendin ontmoet. Sy sit die helmet op wat Cindy saamgebring het, swaai haar been oor, en hou styf vas.

  Die scooter wil nie start nie, en Cindy druk die knoppie ñ paar maal. “Klim af,” sê sy, “dis omdat dit so koud is.”

  Sy trap trap langs die fietsie op die kickstarter en die ysterponie begin entoesiasties brom. Take two!! Hulle giggel en Bianca spring weer op. “Lets gooo!”

  By die klub is daar al baie mense. Die dogters voel ñ bietjie uit sonder hulle seunsmaats, en staan eenkant. Hulle dans maar met mekaar, hulle gesiggies wit onder die ligte, hulle oë groot. ñ Hele paar ouens vra hulle om te dans, maar hulle skud net die kop, nee.

  Bianca voel onseker. ñ Groot lummel met olierige hare en baie puisies op sy neus kom staan by hulle en gryp haar arm. “Wat maak jou so special, hê, dans met my jou lekker Ding!!” Bianca stamp sy hand af. ñ Lang skraal man met swart jeans wat laag op sy heupe hang, ñ lipring en ñ sigaret in die mond, kom staan langsaan. “So, dan is hierdie een myne?” Hy streel Cindy se gesig, vroetel met haar hare. “Skoert,” sê sy, ek het ñ boyfriend....gaan net weg!” Hy gryp na haar skouer, en sy stamp hom teen die bors. “Los my, het ek gesê!” Twee jong pare wat naby staan kyk na hulle, kyk weer onverskillig weg. Die musiek is hard, en die meisies het hulle lus verloor om daar te wees.

  “Kom ons ry liewer en drink ñ milkshake iewers anders, wat sê jy,” sê Bianca. Haar stem bewe. “Cool, hierdie plek doen dit nie vir my nie. Varke!”

  Hulle kom by die fietsie, wat eenkant geparkeer is. Sit die helmets op. Cindy bewerk weer die kickstarter, trap, trap weer harder. Sy hoor Bianca agter haar gil, draai om, en sien die groot vent wat haar netnou so geïrriteer het. Hy het sy een hand op Bianca se boud, en vroetel met sy ander hand by haar bors. Haar nuwe toppie is geskeur, haar oë is groot en swart van vrees. Die lang vent is kort agter hom, en stap na die fietsie met sy broek wat nou gevaarlik laag hang.

  Cindy skop die fiets met mening, en hy brul hard.

“Bianca, spring!!!” Bianca kyk op besef wat gebeur ruk haarself los van die lummel en hardloop na die fiets spring op Cindy maak die petrol groot oop hou haar voete op die grond maak ñ netjiese sirkel en spoed by die hek uit waar sy hard toet en in die grootpad indraai. ñ Paar blokke verder stop sy die fiets langs die pad, en rus met haar kop op die handelbars. Bianca klou haar nog steeds styf vas. Vir ñ rukkie sit hulle so, verskrik en verslae.

  “Lossie milkshake!” sê Bianca, “ek wil nou by die huis wees!”

 

Frans het die ekstra tekeninge klaar gemaak. Hy het vir die meisiekind gesms en vir haar gesê hy gaan laat wees.

Hy kon die laaste paar naweke nie gaan nie, want die werk was oorweldigend, en die base het begin kla omdat hy die projekte ophou.

  Hy eet ñ kougommetjie. 'Man se asem is belangrik.' Hy stap na die swart BMW. Streel oor die deur. “Ek en jy het ñ date vanaand, ou Ryperd!”

  Hy spoed deur die stad, en draai in by die ingang van die klub...klim uit net toe twee ongure jong mans buite om die beurt staan en trek aan ñ dagga zol. Hy hoor die een sê,

  “Wat dink hulle van hulleself, simpel ou meisietjies. Helemal opstairs. Ek het lus vir daardie witkop. Ek sal haar next time kry. Hoe laaik jy die moves, pure Thelma and Louise!”

 

 

15

 

Mika kyk tevrede na die uitstalling. Alles is op sy plek, haar skilderye goed belig. Die selfportret met die kopdoek en die glimlag is reg by die deur. 'ñ Soort van ñ welkom' dink sy geamuseerd.

  Sy lyk uitsonderlik in haar swart langbroek, met ñ roomkleurige chemise en lang donkergroen fluweel baadjie met spesiale skulp knope. Haar glinsterende hare hang eenvoudig en los, met ñ knippie agter, en krulle om haar gesig. Sy het versigtig gegrimeer, en in die sagte lig is haar skoonheid tydloos. Haar swart Italiaanse leerstewels het ñ lae hak, en sy weet sy sal oukei wees met al die gestaan vanaand. Die geur van haar geliefkoosde parfuum omring haar.

  In die teetuin is die tafeltjies mooi versier, met lampe en blomme. Sy gaan ñ pampoensop bedien, met vars gebakte brode, en sjerrie. Net so ñ ietsie vir die gaste wat haar werke kom besigtig.

  Sy staan by die deur toe die mense begin inkom, druk en soen die wat sy goed ken. Haar pa het ook vroeër aangekom, en bly by haar oor in die woonstel. Hy en tante Johanna het mekaar vanmiddag al gesien, en staan koppe bymekaar in die hoek en gesels.

  Johanna lyk vroulik en verbasend gesofistikeerd in haar swart wolrok en ñ mooi rooi paar hoëhak skoene, met lang hang oorbelle. Sy het ñ tikseltjie blond by die silwer laat insit, en dit laat haar jare jonger lyk. Sy luister aandagtig na Niklaas, skud haar kop van tyd tot tyd.

  Hy lyk aantreklik in sy nuwe hemp, koordverweel broek, krawat en sagte leer baadjie. Hare agteroor, en sy baard vars geknip tot naby aan sy gesig, soos ñ prokureur.

  Adri is in die teetuin en maak seker alles loop reg. Sy  lyk vaal en bedeesd. Daar is kringe onder haar oë, sien Mika.

  'Ons moet weer gesels,' dink sy met deernis. Mika kyk oorkant die plein na die restaurant. Die musikante staan buite in die koue aandlug en gesels.

  'O ja, Vrydag aand. Seker tussen stelle.'

  Die poniestert man kom met lang bene oor die plein aangestap. Sy swart hare met silwer strepe hang los. Hy het ñ dik blou rolnektrui aan wat sy diep blou oë goed aksentueer. Sy gesig kreukel in ñ glimlag. “Hallo Madam,” sê hy ewe gallant, lig haar hand en soen dit. “Wat gaan hier aan?”

  “Dis my uitstalling, ek doen dit elke jaar. Wil jy deurstap?” “Wag” sê hy, “ons het nog een stel, en dan kan ek kom. My vriend kan maar sy eie songs sing vir die laaste stel, hy is so goed daarmee.”

  Die volgende uur gaan stadig verby. Die mense geniet die kos, en skilderye. ñ Hele paar verkoop, en Mika is tevrede. Tog is haar hart nie by die gebeure nie, en sy loer knaend deur die glasdeur na die restaurant oorkant die plein. Sy word kombuis toe geroep, en toe sy terugkom sien sy die lang man by haar selfportret staan, dit aandagtig bestudeer. Hy draai om en sien haar daar. “Ek wil myself bekendstel. Ek is Wicus, Wicus Smit. Dankie vir die uitnodiging! Ek stel belang in hierdie skildery van jou, is dit ook te koop?”

  Mika bloos tot in haar hare, die sproëtjies op haar wange staan uit, sy byt haar lip.

  “Ek is Mika de Villiers, maar jy weet dit, hier is dit op die deur. Wel, dit was nie eintlik die plan nie. As jy daarop aandring kan ek daaroor nadink.”

  Skielik is alles net helderder. Haar plekkie skitter en skyn. Sy geniet die mense om haar, die reuk van die sop en sjerrie, die manier waarop die lig op sy gesig val.

  'Hy is so aantreklik vir my! Kyk net die groot hande met die lang vingers. Ek het gesien nou die aand hoe dit om die guitar se nek vou. Kunstenaarshande. Kyk hoe skyn die silwer in sy baard.'

  Die laaste mense is weg. Niklaas het Johanna na ñ restaurant geneem vir ñ warm privaat koffietjie. Adri sit die ligte af in die teetuin nadat sy alles netjies gemaak het, en gee vir Mika ñ soentjie voor sy by die deur uitgaan.

  “Bel jou,” fluister Mika in haar oor. “love you.”

  Hulle sit op die blou fluweelbank met ñ glasie sjerrie elk. Sy het haar leerstewels uitgeskop, en die groen baadjie uitgetrek. Haar skouers is baie wit, met klein roes sprinkeltjies, haar arms welgevorm. Wicus kyk aandagtig na haar, vir ñ lang tyd.

  “Jy is pragtig, besef jy dit? Uitsonderlik interessant en mooi.” Mika waai haar hand en lag. “Ag, ek het genoeg om mee oor die weg te kom, ek is nie meer so jonk nie.”

  “Nee, ek is ernstig,” sê hy, en vat haar hand saggies. “Mag ek?” Mika skuif ñ bietjie nader aan hom. Sy hand is groot en warm en maak haar rustig. Binne in haar is gevoelens wat vir ñ lang tyd geslaap het, wat nou begin strek en gaap.

  “So vertel my hoekom jy nie ñ day job het nie, mmm?”

  “O, dis ñ lang storie. Wil jy regtig hoor?”

  “Ja, ek dink so. Tyd dat ek begin weet wie my misterieuse poniestert man is. Ek bedoel, dié misterieuse poniestert man.”

  “Freudian slip?” Vra hy, en kyk weer ondersoekend in haar oë, wat skitter en skyn in die lig van die kerse.

  “Van die eerste keer wat ek jou gesien het daardie aand, is jy in my gedagtes. Kon nie wag vir Vrydae nie, net ingeval ek jou vir ñ oomblik kon sien. Daardie dansie met die blom ñ paar weke terug het my hormoonvlakke die hoogtes laat inskiet, wat kan ek sê?

  Ek het op ñ klein dorpie grootgeword. My ouers leef nog albei. Ons was nie ryk nie, maar het alles gehad wat nodig is. My pa was ñ onderwyser, my ma het met haar bak en inlê werk vir ons ñ ekstra inkomste gegenereer, ook met haar naaldwerk. Ek en my broer was naby aan mekaar, is nog steeds. Hy bly in die Kaap, ek sien hom so nou en dan, ten minste een maal ñ jaar. Ek het ñ graad in kuns, my groot liefde is beeldhou. Van my hoërskool dae af het ek in ñ Band gespeel, en later het die musiek net oor geneem. Ek toer van tyd tot tyd, en het al ñ paar CD's uit, onder ñ skuilnaam. So, nou weet jy amper alles.”

  Mika vryf sy hand, trek aan die swart haartjies op sy arm.

  “Enne..is daar ñ vrou in hierdie verhaal?”

  “Daar was. Ek was vir ñ paar jaar getroud, geen kinders. Ons het van mekaar weggedryf. Het later maar die verbintenis verbreek. Sy is weer getroud, ons gesels nie juis nie.”

  Mika voel die verligting in haar opstoot. Sy spring op.

  “Wil jy nog ñ soppie hê, ek is skielik honger. Kom staan by my dan maak ek dit vir ons warm in die mikrogolf. Nog ñ broodjie?” Sy haal twee saadjie rolle uit, smeer dit met botter.

  “En..” Wicus lê sy hand op haar arm, draai haar na hom toe. “Is daar ñ man in jou verhaal?” “Ja.” sê sy, en glimlag wyd. “Eintlik twee!” Hy lig sy wenkbroue. “Mmm vertel?”

  “My Vadie vir wie ek hartstogtelik lief is, en my seun Igna.” Sy kyk direk na hom. “Ek was nooit getroud nie. Igna is nou twintig, en in Wallis vir die volgende jaar.”

  Wicus sit sy arm om haar skouers. “So wat is nuus?” Hy vroetel met ñ sliert hare wat oor haar oog hang. “Staan stil, wag,” en sit dit versigtig agter haar oor, “nou kan jy sien.”

  Na die lekker soppie staan Wicus op, en kyk deur die gallery. Staan stil by elke werk, neem dit in. Hy stop by haar speler en kyk na die CDs. “Ah, Van Morrison,” sê hy. “My gunsteling. Ek hou veral van Moondance, en...kan ek dit speel?” “Natuurlik.” sê sy.

  Die teer stem van Morrisson vul die ateljee. “I've been searching a long time, for someone like you...I've been travelling all around the world waiting for you to come through...someone like you, to keep me satisfied..” 

  Wicus maak of hy ñ mikrofoon voor sy mond hou, trek ñ hartstogtelike gesig...kyk haar reg in die oog... “someone exactly like you..someone exactly like you!”..

 

16

 

Ek gaan ñ kursus neem in selfverdediging, en Cindy ook. Ons het besluit!!”

Sy staan en oefen iets wat lyk soos karate chops. “Ahhhhhh,” skop met haar regterbeen hoog op “Hau so!!” 

Adri sit in die kombuis by die tafel. Sy het klaar skottel goed gewas, en ontspan met ñ koppie tee. “My genade my kind,” sê sy, “en vanwaar die skielike besluit?”

  “Daar was ñ man by die skool wat sulke klasse aanbied, en ons wil dit doen, net vir in case, Ma weet. Dis gevaarlik daarbuite. Sal Ma vir dit betaal?”

  “Goeiste Bianca, ek sal met Pa moet praat. Gaan jy dit kan inpas tussen al jou goed? Jou program is al so vol?”

  “Ja, Mamma ek het dit mooi uitgewerk. Ma weet, my lewe hang daarvan af. Daar is allerhande freaks daarbuite. Hoe lyk dit?”

  Sy trek ñ kwaai gesig, wikkel haar wenkbroue, hou haar hande soos ñ Hottentogsgod op die aanval. Adri glimlag, probeer dit wegsteek. 'Die kind, een oomblik is sy ñ popster, en die volgende oomblik doen sy hierdie tipe van ding.'

  “Oukei my kind, jy lyk vir my baie ernstig daaroor. Ek sal met Pa praat hoor? Wil jy maar so lank die wanorde in jou kamer gaan aanval? Sit jou voet op Entropie se keel?”

  Bianca gaan grommend by die deur uit, sê ñ paar woorde wat Sjinees klink.

  Adri sug. 'Alweer laat vanaand die Meneer. Kom net losieshuis toe as hy wil bad en slaap. Tot die maaltye wat ek kook word meestal geïgnoreer. Ons gaan ñ konfrontasie moet hê, dit kan nie so aangaan nie. My huwelik is in ernstige moeilikheid, en dit gaan nie help om net niks te sê nie. Sê nou maar hy gee vir my Aids....alhoewel, soos die bedsake op die oomblik staan is dit nie eintlik ñ moontlikheid nie. Mika se uitstalling het werklik goed afgeloop nou die aand. Bly ek kon haar help. Sy het so mooi gelyk.'

  Haar sel prrrr op die tafel, lui. “Mika! Ek sit nou net en dink aan jou show. Dit was regtig fenomenaal! Dit is ñ plesier, jy weet mos. Wat? Die Poniestert Man? Sowaar! En hy het toe nie tien kinders nie? Mmmm. Hy klink dierbaar. Weg vir die week? Sjoe, maar dit ontwikkel vinnig. Dis darem al baie lank vandat jy in ñ verhouding was.”

  Sy kan hoor aan Mika se stem dat sy bly en gelukkig is, dat dit met haar goed gaan. “Oukei, dan sal jy my laat weet wanneer jy tyd het. Nee, dit gaan nog dieselfde hier. Ons gaan moet praat of ñ berader sien. Oukei, is dit nou hy daar? Love you, mwah.”

  Sy staan op, sien haar weerkaatsing in die kombuis venster. Frons, en maak die blinders toe. 'Sy klink wonderlik. Ek is so ontsettend bly vir haar, dis werklik tyd. Sy  is so mooi en spesiaal en verdien iemand goed en dierbaar. En ek, wat verdien ek? Dit wat ek het op die oomblik?? Nee!! Ek gaan vir myself moet opstaan. As ek dit nie doen nie, wie sal? Frans is verkeerd met dit wat hy doen. Ek is nie lelik nie. Ek versorg myself goed, en ek dink ek lyk beter as meeste vrouens van my ouderdom. Eintlik is dit verregaande van hom. Simpel vent!! Na al die jare wat ek hom bystaan en versorg, die groot Lummel!!”

  Sy vat die koppie wat op die tafel staan, gooi dit teen die muur. Dit spat aan skerwe. Sy gryp die piering en maak nog ñ merk op die duur teëls.

“Jou simpel, selfsugtige, agterbakse Boef! Ek haat jou vir wat jy aan my doen!!!

 


Submitted: June 30, 2013

© Copyright 2020 Huldah. All rights reserved.

Chapters

  • Facebook
  • Twitter
  • Reddit
  • Pinterest
  • Invite

Add Your Comments:

More Religion and Spirituality Books

Other Content by Huldah

Book / Religion and Spirituality

Book / Religion and Spirituality