Chapter 6:

  • Facebook
  • Twitter
  • Reddit
  • Pinterest
  • Invite

Status: Finished  |  Genre: Religion and Spirituality  |  House: Booksie Classic

Reads: 265

21

 

 Igna kerf die laaste stukkie biltong met deemoed op. Mika het vir hom nog ñ pakkie gestuur, en hy het dit gerantsoeneer, maar nou is dit definitief klaar. Hy lek die laaste krummeltjies op, hou dit op sy tong.

  Hulle het gisteraand geskype, en sy ma se vriend het ook saamgesels. 'Hoe cool kan dit wees? Sy sê hy het ook ñ graad in kuns. Wow, hy is ñ regte Dude!!' Pas by sy ma...hulle twee arty mense bymekaar. Hy is bly dat iemand na haar kyk. Dit maak hom rustig.

  Sy het vir hom foto's gestuur op Facebook van Oupa Niklaas en sy nuwe vrou. Igna het ñ waterverf kaartjie met twee blou voëljies op na die posbus op Heidelberg gestuur, hy hoop sy oupa kry dit. Hy het sommer ook vir Thabo ñ briefie gepos, met ñ paar lekker foto's in.

  'My genade, soveel romanse in die familie in so ñ kort tydjie. Net jammer ek het niemand nie, maar eintlik is dit maar ook okei. Ek geniet my solo avontuur in die UK.'

  Hy en sy vriende ry môre oggend vroeg na Keswick toe, en hy wil nog ñ paar goed in sy rugsak prop. Hy hoef nie te skeer nie, want hy is besig om vir hom ñ baardjie te groei. Dit lyk maar yl op plekke, maar hy hou daarvan. Laat hom meer soos ñ man lyk. Hy vroetel daarmee, net jammer dit is so jeukerig. Hy vat ñ naelsker uit sy kas. Wil darem net die kloof op sy ken oopsny, dit is sy signature het sy ma altyd gesê.

Hulle ry met die kronkelende laning teen die berg op. Die klein village lê agter hulle, kompleet met historiese huisies teen styl hellings. Dit is interessant om moderne motors geparkeer te sien, waar mens eintlik waens en perde sou verwag. Groot troppe skape wei in heldergroen velde. Party van hulle kom nuuskierig nader aan die heining om te sien wie die besoekers is.

  Hulle stop by die fontein in die middel van ñ klomp historiese geboue.

  Een van die lektore stap hulle tegemoet. “Welkom, welkom,” sê hy in sy melodieuse Skotse aksent, “ek is Ben Stuart. Volg my, dan wys ek vir julle die dorms.”

  Igna verkyk hom aan die ou geboue. Dit voel of hy in ñ ander tyd leef, veral nou in die landelike opset. Hulle stap verby ñ klomp groot houers wat elkeen gemerk is.-Glas, Plastiek, Kompos-. Dit is duidelik dat om groen te wees aan die orde van die dag is.

  “Hier is die kombuis en eetlokaal.” Die kombuis is enorm, en daar is ñ ouer vrou en jong meisie wat besig is om potte te roer en groente op te sny.

  “Dit is Lizzie, ons matrone, en hier is Jana. Sy is ook van Suid Afrika.”

  ñ Beeldskone blonde meisie kyk op, glimlag sjarmant, en gaan aan met haar slaai, sing saggies onder haar asem.

  Igna voel of ñ muil hom teen die bors geskop het.

  Hulle stap met ñ lang gang af, en kom finaal by die slaaplokaal aan, waar hulle die rugsakke neersit. Dit is skoon en ruik na meubelpolitoer.

  “Nou goed,” sê Ben. Hulle het klaar geëet en hy spreek die groep van omtrent twintig jong mense toe.

  “Ons gaan nou op met die berg. Daar is ñ rivier wat ek vir julle wil wys. Bly asseblief by my. Julle kan vir julle elkeen ñ pakkie toebroodjies by Jana gaan haal, en bottels water. Onthou asseblief om nie die houers rond te gooi nie. Hou dit en maak gebruik van ons herwinnings skema.''

  Igna staan voor die meisie. Sy is in ñ denimbroek en rooi ritsbaadjie. Haar lang blonde hare is in ñ poniestert, en sy het ñ kruis om haar nek.

  “So,” sê, sy, en haar Afrikaans het ñ Engelse smakie daaraan, “waar kom jy vandaan?”

  Hulle staan vir ñ rukkie en gesels. Sy is warm en vriendelik, intelligent, kom Igna dadelik agter. Iemand kom om hom te roep. “Ons is oppad!” “Hier is jou toebroodjies,” lag Jana, en haar glimlag verhelder die kombuis, “Sien jou later!”

  Dit is wonderlik mooi op die berg. Dit is nie baie hoog nie, maar ñ stywe stappie, selfs vir die energieke jong mense. Die uitsig is onbeskryflik, die sin van wydte en distansie oorweldigend. Die skoonheid van velde met klein villages wat hier en daar in die middagson lê stem Igna liries. Later sit hulle gesellig saam en eet hulle toebroodjies.

  “Vanaand,” dring Ben se stem na hom deur, “het ons ñ gas lektor. Hy is van Cheltenham, en kom van tyd tot tyd deur om ons toe te spreek. Hy is baie geleerd. Maak asseblief seker dat julle betyds is.”

  By die Dorm gekom is dit amper aandete. Igna stort en trek ñ skoon hemp aan. Ruik onder sy arms, en spuit ñ bietjie deo aan. Dis nog die lekker een wat sy ma vir hom gekoop het vir Kersfees. Hy voel deemoedig, mis sy Mams. Dis nou al baie maande wat hy nie vir haar ñ drukkie kon gee nie. Skype is wonderlik, maar hy verlang na haar unieke fisiese nabywees, die geur van sitrus en vanielje in haar hare.

  Aandete is dik groentesop, met brood, en ñ lekker sticky toffee pudding. Igna eet sommer twee bakkies op, en sy vriende ook. Hy is bly om hierdie avontuur met hulle te deel, nou leer hulle mekaar beter ken. Jan is van Springs, Theo kom van Port Elizabeth, en Willem is ñ boerseun van Marble Hall.

  Die mooi Jana bedien hulle, in ñ sagte oranje romp en langmou toppie wat by haar goudbruin oë pas. Haar kruisie glimmer in die lig. Igna is baie bewus van haar. Haar sagtheid, haar teenwoordigheid. Hy wil haar graag beter leer ken.

  “Goed dan,” sê Ben, “kom ons beweeg deur na die studielokaal. Professor Yeld gaan ons daar toespreek. Maak seker julle kan notas neem, daar sal baie informasie wees.”

  Igna stap gou na Jana toe, terwyl die ander vooruit gaan. “Kan ek jou miskien later iewers ontmoet?” vra hy, voel hoe sy hart vinniger klop. Sy bloos, en kyk skamerig af.

  “Ja,” sê sy, “ek dink jou klas is vir so ñ uur en ñ half. Kom kry my hier, ek is besig om vir môre voor te berei.”

  Igna moet gou ñ draai loop, en kom dus eers by die lokaal aan toe die klas al begin het.

  Professor Yeld staan met sy rug na die klas en wys met ñ wit stokkie op ñ kaart. Igna kry ñ tafel wat oop is reg voor, en skuif gemaklik in. Die groot blonde man draai om, en kyk direk in Igna se oë. Hulle vryf gelyktydig met hulle voorvinger in die diep kuiltjie in hulle ken.

  “Welkom, welkom” sê Mark, “liewers laat as nooit!!”

Mika lê op haar maag. Haar hare is op die kussing oopgesprei. Haar kort somers pyjamas is van groen sy. Haar lang wit bene hang van die bed af. Sy snork liggies, slaap diep.

  Haar selfoon lui. -Moondance- In haar droom is sy buite in Wikus se arms, ñ goue maan oor hulle.

  Sy word wakker, skrik. 'Wie bel nou?' Sy sit haastig orent, laat val die sel, tel hom weer op. “Mika de Villiers,” mompel sy, kyk om te sien wie bel, maar haar oë bly ongefokus.

  “Igna!! Wat is verkeerd, Boetie??” “Skuus dis so laat, kan Ma nou praat? 'Seblief dis belangrik!”

  Mika sit die lampie aan, gaap, begin badkamer toe strompel.

  “Hallo Igna, sê vir my, wat gaan aan?” “Ma, ek dink ek het my pa gevind! Hy het vir ons klas gegee hier by die sentrum. Ek het mos laas vir Ma gesê ek kom een of ander tyd. Hy is ñ Professor en bly in Cheltenham. Hy lyk soos ek Ma, ons het presies dieselfde dimpel.”

  Mika se bene begewe haar, en sy sak op die vloer neer, leun haar kop teen die muur. “Wat is sy van, my kind?”

  “Yeld Ma, Sy naam is Mark Yeld.”

  “Het jy met hom gepraat?” “Ja, na die klas het hy homself aan my kom voorstel, my naam gevra. Toe ek hom sê het hy wasbleek geword, my allerhande vrae geva oor jou en my familie. Hulle het hom kom haal, en ons kon nie verder praat nie. Wat is Ma so stil...wat sê Mammie, praat met my??”

Mika se hart voel of dit uit haar bors gaan spring. Sy het geweet hierdie dag sal kom, sy het dit altyd uitgestel en gehoop dit gaan verby.

  “Ja Igna, my seun,” sê met trane wat teen haar wange af loop, “hy ís jou pa, jy is heeltemal reg.”

 

??????????

22

 

Adri is besig met die skottelgoed. Bianca sit met haar boeke by die tafel. Hulle het klaar geëet.

  Dit is baie rustiger by die huis nou dat Frans nie daar is nie. Sy mis hom baie, maar die gemaal in haar gemoed het opgehou, en sy wag nie die heeltyd op sy tuiskoms soos sy voorheen gedoen het nie. Dit was baie moeilik met Bianca in die begin. Sy was woedend vir haar pa aan die een kant, en het skuldig gevoel omdat sy haar ma vertel het van sy agterbakse optrede. Sy was ook skaam en wou nie haar kêrel en vriende sien nie. Gelukkig het hulle haar gou verseker dat daar niks verander het nie, en sy is weer in die sirkel ingetrek.

  Sy en Cindy gaan een maal ñ week op ñ Dinsdagaand na die selfverdedigings klasse toe. Die man wat dit aanbied, Johann Arendse, is gesout in sy kuns, en die dogters kom goed aan. Hulle geniet die klasse vreeslik, en dis ñ gedurige geoefenry op die gras, en in die gang en die motor. Adri moes nou al ñ paar maal die boef speel, sodat Bianca haar triomfantlik kon oorrompel.

  Adri het self ook begin Pilates doen, en lyk goed. Haar hare is ñ bietjie langer, en haar vel lyk bevogtig en glad. Sy gaan vir ñ laser behandeling by ñ salon, een maal per maand. Sy voel nie sleg oor die geld nie, sy het besluit dat sy beter na haarself gaan begin kyk.

  Dit gaan okei by die werk, maar Adri het besluit sy gaan vir haar ñ ander pos soek. Sy wil ook weer begin studeer en haar kwalifikasie opskerp. Begin boeke doen vir besighede en maatskappye. Sy hou van syfers, en die geld sal beter wees. Dan kan sy dalk ook van die huis af werk, dis beter vir haar én Bianca. Mika kom netnou oor, en dan kan hulle die opsies ondersoek. Mika het ook gesê sy het iets ernstigs om te bespreek. 'Klink geheimsinnig' dink sy met ñ klein fronsie.

  Daar is ligte by die hek, en Adri stap uit om dit met die remote oop te maak. Mika parkeer langs die BMW, en klim vervaard uit. Sy lyk ietwat onversord, wat vreemd is vir haar.

  “Hoegannit, my Skat. Jy lyk goed,  jou vel is pragtig. Hallo Bianca. Hier is vir jou iets, sommer van die winkel.”

  Sy maak wye oë, en knik na Bianca, skud haar kop.

  “Bianca,” sê Adri. “sal jy jou goedjies opvat kamer toe, ek en Mika wil gesels. Oukei my Pop?” Bianca glimlag, druk weer haar klein Ipod in haar ore, en gaan singend by die trap op.

  “Adri,” sê Mika. “Sussie, ons moet ernstig bid!” Haar oë is donkergroen en baie diep, gevul met ongestorte trane.

  “Igna het vir Mark in Engeland raakgeloop, kan jy dit glo??”

  Adri strek haar arms oor die tafel, en vat Mika se hande styf vas. “Vertel Vriendin, ek luister..”

Onwillekeurig onthou sy daardie paar weke, so lank gelede. Mika se suster wat met haar verloofde oorgekom het van Engeland met vakansie, stralend van blydskap en trots. Die liefde wat tussen Mika en Mark opgespring het soos ñ weghol veldbrand, wat nie een van hulle kon keer nie. Suzanna se tragiese ongeluk in daardie periode. Die nag wat hulle gesteel het in ñ hotel. Die ontdekking van Mika se swangerskap net daarna, en die besluite wat Mika moes neem, en net sy Adri, het die waarheid geweet, dit in haar hart gedra, vir al hierdie jare.

  “Wel, dit klink vir my hulle weet altwee. Daar is nou nie meer ñ terugdraai kans hier nie. Dink jy jou suster weet?” Mika se oë is swart van pyn. “Ek weet nie, ek weet nie!! Ek wou dit nooit aan haar doen nie, Adri...nooit...sy is my suster!! Ek wou haar nie seer maak nie, nooit nie.”

  Adri druk haar vriendin se hand saggies, kyk haar met deernis aan.

  “My Skat, daar is niks wat ons nou kan doen om dit te verhoed nie, die waarheid moet uit. Wanneer praat jy weer met Igna?” “Hy sal my weer bel. Ek het vir hom gesê ek kom na jou toe vanaand.”

  Adri maak vir Mika ñ geroosterde broodjie en ñ pot tee. Staan agter haar en vryf haar skouers, streel oor die koper lokke. Mika voel rustiger, en laat toe dat haar vriendin haar in haar liefde toedek.

Tot laat sit die vriendinne en gesels, bespiegel, bid, besluit. Hulle wat soveel storms saam deurstaan het, steeds getrou aan mekaar se sy.

 

 

23

 

Die dag toe Frans sy tasse vat en by sy groot huis in die ooste van Pretoria uitstap, met sy vrou en dogter wat agterbly, was dit of hy homself weer bevind in die pynigende dae van sy kindertyd, sy wese vergruis onder die gewig van hulle gesamentlike verwerping.

  Hy het sy besittings in die kattebak gesit, gewag dat Adri die hek vir hom oopmaak, want sy het sy sleutels gehou. Opgekyk na sy dogter se venster in die hoop dat hy haar dalk nog een laaste keer kon gewaar..soos ñ blinde man op instink die hoofweg gekry. Die rit was ñ donkerskadu droom. Hy het verlore gevoel, omring deur die koue mis van wanhoop en vrees, hangende oor ñ afgrond...

 

Die ou man se hand is warm in syne, ñ sterk greep wat hom uit die dieptes trek, anker. Sy oë is helder en penetrerend, en Frans sien daarin gereflekteer sy diepste wese, die hart van ñ ongeliefde seun, verag, bespot, verwerp.

“Welkom,” sê die ouer man. “Jy het net betyds gekom, Seun. ek het jou bitter nodig.” Warm trane skiet in Frans se oë. Hy kyk af en probeer dit verberg.

  “Ek en my vroutjie het besluit dat ons vir jou die werkershuisie gaan gee wat leeg staan. Dan het jy jou privaatheid. Ons is mos almal grootmense. Dit is klein, daar is ñ paar krake, en die stoepdakkie het aandag nodig. Maar jy is mos ñ handige man, ek is seker dat jy dit gou sal uitsorteer.”

  Hulle stap deur die hekkie. “Ons kan netnou jou goed bring, ek wil net vir jou wys en die sleutel gee.”

  Die huisie staan ñ bietjie eenkant, omring deur ñ wag van groot ou Jakaranda bome, knus en veilig in die lowerige omarming. Dit is eenvoudig, selfs verwaarloos.

 Oom Niklaas maak die gaasdeur oop, sit die sleutel in die slot, en tree terug.

  “Hiersô my Seun, dit is joune vir solank as wat jy nodig het. Tante het vir jou koffie en beskuit uitgesit, daar is ditjies en datjies in die yskas en kaste, kyk gerus. Ek los jou om ñ bietjie jou eie gedagtes te dink. Wanneer jy reg is kan jy jou kar ombring met jou goed. Ons het die waenhuis vir jou leeg gemaak, so nou kan jy daardie smart blink mouterkar van jou in die aande in die bed sit.”

  Sy oë is vriendelik en gerusstellend. Hy sit sy hand op Frans se skouer. “Welkom by Eden.”

  Frans gaan staan voor die venster, wat uitkyk op ñ heuwel. Groen velde lê voor hom, staan geil in die son. Vir die eerste maal in jare laat sak hy sy kop. “Dankie,” sê hy saggies, “baie dankie.”

Die weke gaan verby en die landelike ritme is genesend vir Frans se gekneusde psige.

  Hy staan met hanekraai op, en kyk hoe die son opkom, met sy eerste koppie koffie en beskuit wat mildelik aan hom voorsien word. Dan ñ stap oor die plaas, vroegdag, met al sy nuwe vierbeen vriende net om seker te maak dat al die drink trogte genoegsaam vol is, en net sommer om sy bene te rek. Die heerlike vars lug is vir hom ñ belewenis, en hy kan nie genoeg daarvan kry nie. Sy arms en gesig is bruin van die son, en hy slaap goed. Sonder dat dit werklik sy keuse is, is hy op die waterkar, en na die eerste paar weke laat die dranklus hom alleen. Daagliks groei die geneentheid tussen hom en die dierbare man wat hom met soveel erbarming omhels het. Daar is heelwat werk, meer as genoeg om hom elke dag besig te hou. Hy help graag, en bring uit sy eie ondervinding en kennis baie wat vir Oom Niklaas en die plaas van nut is.

  “So dan, Frans,” sê tante Johanna, “nog ñ skeppie vleis? En wat van groente?”

  “Dankie Tante,” sê hy en glimlag vir haar, “dit sal heerlik wees.” Sy kloek om hom en maak die bord nog ñ keer vol. Hy en oom Niklaas eet smaaklik. Hulle was weg na ñ veiling, en het net voor sononder tuisgekom.

  Daar is ñ vergadering op Mooi Vallei, en Niklaas het Frans gevra om saam te gaan. Dit is al donker toe hulle by die buurman stop. Oom Gert kom met uitgestrekte hand aangestap.

  “Goeie naand, welkom!” sê hy. “Niklaas het vir ons gesê jy help uit daar op Eden. Kom in, dan stel ek jou voor.”

  Hulle stap oor na die rondawel wat langs die huis is. ñ Kring van gemoedelike gesigte wag op hom. Dadelik word hy ingetrek, en hy geniet die belangstelling en vriendelikheid. Tante Maria is op haar stukke met tertjies en koffie, en die mans gesels hartlik.

  Wessel Wessels het voorberei om die spreker te wees vir die aand. Sy stem is diep en ernstig toe hy oplaas opstaan om te praat.

  “Goeieaand almal. Dankie vir die spreekbeurt. Ek het heelwat huiswerk gedoen sedert ons laaste vergadering. Ek het ook ñ klomp inligting op die Net bymekaar gemaak. Ons weet elkeen wat in die land aangaan.. koerante skree dit uit, ñ menigte nuusbulletins hou ons op hoogte, mens kan uurliks op die Net gaan en informasie inwin.

  Doktor Gregory Stanton van Genocide Watch was onlangs in Suid Afrika, en ek en my broers het sy vergadering bygewoon in Pretoria. Hy is absoluut teen al die plaasmoorde, en die grusame manier waarop dit uitgevoer word. Hy glo dit is dade van terreur, en dikwels nie net gewone misdaad nie, soos daar beweer word nie. Hy sê dat die haatspraak, en die insinuasie dat die witman slegs ñ setlaar is, en dus nie hier hoort nie, definitief beduidend is. Om nie te praat van die “Kill the Boer” lied wat openlik gesing word nie. Hy glo dat ons afstuur op ñ daadwerklike poging van die magte daarbuite, om die totale uitwissing van die wit man in Suid Afrika te bewerkstellig. Hy sê al die tekens dui daarop.

  Sy organisasie het ons land nog ñ vlak hoër geskuif, op hulle lys van dringendheid, tot op vlak ses, en vlak agt is die vlak van ontkenning nadat die daad gepleeg is! Hy glo dat rooi magte agter al hierdie dinge sit, en dat hulle beplan om eventueel alle privaat besit af te skaf. Hy het belowe dat hy met die Amerikaanse regering sal praat, en ook kyk of daar lande is wat asiel aan ons mense sal bied. Dit sit wel nie goed met die internasionale media nie, wat graag nog ñ liefling van Mandela en sy sogenaamde vryheidskrygers wil maak. Dr. Stanton is bevrees dat teen die tyd wat die wêreld weet wat aangaan, dit te laat sal wees.

Daar is gerugte dat baie duisende jong mense uit plakkers kampe opgeroep word om deel te wees van ñ krygsmag, wat blykbaar gereed staan om oor die land ontplooi te word. Ook dat opleiding van jong swartes oor ons landsgrendse plaasvind.

  Ons land gaan met rasse skrede agteruit, mense! Dit is soos ñ trekker sonder brieke op ñ styl afdraand! Dit is duidelik dat ons op ñ revolusie afstuur. Dit is net ñ kwessie van tyd. Die skrif is teen die muur..die stormwind gaan niks onaangeraak laat nie, verseker nie. Dit gaan elke huis en instansie onderstebo waai, baie min gaan bly staan.

 Ons het tot die slotsom gekom dat mense uit die stede sal moet kom, want niks of niemand sal veilig wees nie. Beter dat mense onttrek na die platteland. Daar is wel diegene wat dink dat ons onself sal kan handhaaf in die stede, maar om in ñ stad te wees sonder voorrade en in die middel van chaos is nie iets wat ek vir my familie kies nie. Daar is ñ groep op die Net wat geroepe voel om te help met onttrekking. Hulle is baie goed georganiseerd, en is landwyd aktief. Gaan besoek gerus hulle webwerf, tik net ' suidlanders' in. Ons as familie dink sterk daaraan om met hulle hande te vat.”

  Een van die boere staan op. Sy oë is diep bekommerd. ”Wat kan ons doen, hoe raak dit ons?” Hy stoot sy hoed agter toe en krap sy kop. “Wat staan ons te doen??”

  “Wel, die eerste ding wat ons almal moet doen is om brandstof bymekaar te maak, Soveel as moontlik, ten minste vir ñ duisend kilos. Twedens voedsel. Dit sluit in saad waarmee daar nie geneties gefoeter is nie. Derdens en verder alles wat ons en ons gesinne op ñ lang vakansie in die bos gaan nodig hê.”

  Hy glimlag ñ bitter glimlaggie. “Dink maar so daaraan, en maak seker dat julle kan oorleef vir ñ hele paar maande, selfs ñ jaar of meer. Die wie se plase ver genoeg in is, en verskuil is, sal moontlik kan aanbly. Baie van hierdie plase is te naby aan die rooi gebiede en dorpe, en julle sal moet skuiling soek elders. Wanneer hierdie dinge begin gebeur  sal niemand kan sê wanneer dit gaan uitwoed nie. Na die eerste weke wanneer daar nie meer trokke is wat loop nie, sal daar tekorte wees aan alles. Rassehaat sal eskaleer, en verseker sal die hele land in chaos verval. Oorlewing sal die wagwoord wees. Niemand sal veilig wees in die stede nie, dit is waarom ons gaan onttrek na die platteland! Dit sal veiligste wees vir mense om saam te staan, in konvooie te beweeg, en in groepe laer te trek. Eendrag maak Mag!! Nog vrae??”

  Vir wroegende ure koukus die boere. Hulle is dankbaar dat Wessel homself ingelig het, en werklike praktiese antwoorde en oplossings het. Hierby voeg die mans hulle voorstelle en idees. Dit is na middernag toe die vergadering verdaag, en die groep besluit het om saam te staan. Om met woord en daad voor te berei om hulleself, en hulle mense en gemeenskap veilig te hou en te beskerm in die donker dae wat kom.

 

 

 

24

 

 Igna en Jana sit buite terwyl die son onder gaan. Hulle het by ñ kampeerterrein ingeboek vir die nag. Hulle het vooruit beplan en is goed georganiseer. Die tweeman tent het slegs minute geneem om op te slaan.

  Die paar dae nadat hy Mark Yeld ontmoet het, was vir hom stormagtig. Diep verlangens uit sy kindertyd, en hartstogtelike vrae het hom omspoel. Dringende soeke na sy bloed, herkoms, wat van tyd tot tyd by hom gespook het, in sy gemoed gewoel het, het weer na vore getree, dring aan op antwoorde, resolusie.

  “My Pa!!” Hy kyk opgewonde na haar. “Ek kan dit nie glo nie! Ek het so na hom verlang. My oupa is vir my wonderlik, en het my absoluut ondersteun en opgebou, maar ek wou ook weet van watter ander geenpoel ek afkomstig is. My ma het my toe ek klein was net die minimum vertel, en voet by stuk gehou.” Hy lag, vryf oor sy dimpel. “En nou!!”

  Hy het weer die naweek oorgekom na Keswick om by Jana te wees. Hulle vriendskap het oopgeblom in iets teer, met ñ belofte van diepte en nabywees. Sy is vir hom ñ inspirasie, kreatief dog prakties, beeldskoon dog met haar voete op die grond. Hy verkyk homself aan haar. Die blonde krullerige hare, goudbruin oë, en vol mond wat so geredelik glimlag. Haar bou is uitsonderlik, skraal en atleties, met kurwes net waar hulle moet wees. Haar stem is besonder melodieus, en sy sing pragtig.

  Hulle geniet die sonsondergang. Igna maak ñ vuur en hulle braai die heerlike Cumberland sausage wat bekend is in die distrik.

  “Ons moét braai, Boertjies in Engeland!” sê Igna. Hulle skaterlag, en geniet die band van gesametlike herkoms tussen hulle. Die twee jong mense sit tot laat in hulle slaapsakke en gesels.

  “Net voordat ek Keswick toe gekom het, het ek my verwonder aan die feit dat beide my ma en my oupa skielik verlief geraak het, en hier sit ons nou. Dinge gebeur in drie, sê hulle?”

  Sy blaas vir hom ñ soentjie. “What will be, will be! Terloops, wat gaan  jy doen?” vra sy. “Het jy ñ plan? Jy sal moet kontak maak, Hoe lank het jy nog oor in die UK?”

  “Ja, dis waar. Dit is ñ faktor. Dit sal net moeliker wees van  die huis af. Ek hou daarvan om so naby aan hom te voel, jy weet, op die selfde kontinent. Of in hierdie geval, eiland.”

  Sy sit regop, vroetel haar hande uit die slaapsak, waai hulle teatraal rond. “Ek het ñ plan, sê sy, en haar gesig straal, “hoe sal dit wees as jy...?”

  Die volgende dag is hulle met sonop opgepak, en haas hulle terug na die sentrum toe. Jana vat hom na die kantoor, wat verlate is, aangesien die ander werkers dorp toe is. “Hier,” sê sy, triomfantlik, en onderstreep dit met haar slanke vinger. “hier is sy nommer, bel hom!”

  “Proffesor Yeld, good morning,” sê die diep basstem aan die anderkant. Igna word bloedrooi, struikel oor sy woorde. “Professor, this is Igna de Villiers. I am phoning to find out whether you have any free time today?”

  Jana is ñ goeie bestuurder, met ietwat van ñ renjaer in haar. Gelukkig hou Igna van spoed, so hulle geniet saam die krag van die enjin. Hy word bietjie benoud in die nou lanings waar mens dikwels nie aankomende verkeer kan sien nie, maar wonder baarlik is daar geen botsings nie, tot sy verligting. Die ure snel verby, en hulle stop net vir brandstof, ietsie om te eet en die toilet. Jana het haar gunsteling musiek op die CD speler, en sing hartlik saam.

  Hulle kom aan in Cheltenham, sprokiesagtig mooi, so baie oud en histories. Hulle vind gou hulle weg. Jana het voorheen vir ñ rukkie daar gebly, en sy ken die plek redelik goed.

  Hulle draai in van die pad deur mooi ysterhekke, en kom tot stilstand met ñ knars op die klippies in die oprit. Kleurvolle goedversorgde tuine omring die geboue. Die dubbelverdieping is imposant.

  Igna se asem kom vinnig, sy hart klop ontstuimig. Hy probeer nonchalant voorkom, maar Jana kan sien dat hy sukkel. Hulle klim uit, staan vir ñ oomblik by die motor.

  Hulle stap oor die klippies, gaan staan voor die deur. Kies die naam uit, Mark Yeld, nr. 7, druk die knoppie. Hulle hoor voetstappe met die trappe afkom, ñ swaar tred. Die groen houtdeur met die koper klopper swaai oop, en weereens verskyn Igna se ewebeeld voor hom. Die stralende man glimlag, strek albei sy arms uit, en druk Igna teen sy bors. “Ek het vir jou gewag...jy is hier, finaal hier, kom in my seun!!”

 

Mika kyk na die gesig op die skerm. Die gesig wat in haar drome gespook het vir baie jare. Die mens wat sy al hoe meer gesien het hoe ouer Igna geword het, in sy stap, sy maniere. Langs hom is sy jonger refleksie. Igna kyk met  vraende jong oë na haar, pleitend en verwagtend.

  “Dit gaan goed met my dankie” sê sy, vee haar hare van haar gesig af, probeer regop sit. “En self?”

  “Ja,” sê die resonante stem, gesig so ernstig soos sy seun s'n, “beter as ooit,” Hy glimlag en kyk na die jong man langs hom, “veral nou. Maar,” en die twee mans kyk weer ñ keer na mekaar, hulle skouers raak voor die skerm, “ons het antwoorde nodig. Please explain!!”

 

  Na die Skype sessie lê Mika op haar bed. Vou die deken om haar, spring op, maak ñ koppie tee en skuil weer onder die duvet.

  Na al die jare, om hom weer so naby te hê!! Haar twee mans bymekaar, einde en op laaste. En groot skok en verrassing! Dat hy en Elsbet slegs ñ bietjie meer as ñ jaar na die troue uitmekaar is, en dat hy vir ñ lang tyd al heeltemal met haar kontak verloor het! Sover hy kon agterkom het sy by een of ander kult betrokke geraak, en haarself van die samelewing afgesonder. 'Dit verduidelik so baie!'

  Mika besluit dat sy navraag sal doen en sien of sy haar suster kan opspoor. 'Sommer môre!'

  Sy speeddial Adri se nommer. “Hallo Vriendin, ek het groooot nuus!! Sit die ketel aan!”

 


Submitted: June 30, 2013

© Copyright 2020 Huldah. All rights reserved.

Chapters

  • Facebook
  • Twitter
  • Reddit
  • Pinterest
  • Invite

Add Your Comments:

Other Content by Huldah

Book / Religion and Spirituality

Book / Religion and Spirituality