Chapter 8:

  • Facebook
  • Twitter
  • Reddit
  • Pinterest
  • Invite

Status: Finished  |  Genre: Religion and Spirituality  |  House: Booksie Classic

Reads: 353

29

 

 Frans se hare waai in die wind..hy is op sy perd se rug. Die veranderende landskap wat verby stroom, die ritmiese gang van die perd, wat met fyn gehoorsaamheid gaan waar hy dit heen stuur, skep ñ wilde vreugde in hom wat soos ñ vuur in sy are brand.

  Sy hart is vol blydskap. Hy lag sommer alleen daar in die veld. Sy gesin kom vir hom kuier, die dag voor Kersfees, vir ñ hele agt dae! Dit is vir hom ñ antwoord tot gebed! Hoeveel maal het hy  geworstel met gedagtes oor sy verbrokkelde huwelik, gewonder hoe hy dit kan regstel. Hy weet dat God hom vergewe het, is seker daarvan, maar hy het ook hulle vergiffenis nodig. Hy druk sy voete in die perd se lieste, gaan oor in gallop.

  Daardie aand aan die tafel kan hy nie genoeg oor sy gesin praat nie. Hoe mooi Adri nog is, hoe betroubaar en liefdevol. Hoe guitig en slim sy dogter.

  Die ou paar sit en hande hou, luister met ñ glimlag, en kyk nou en dan vir mekaar. Hulle het saam al hard gebid vir hierdie gesin, en kan sien dat God aan die werk is.

  “Ek gaan vir Bianca leer perdry, ek het haar oor die foon gesê, en sy is ekstaties! Ek sal vir haar ñ hoed moet kry,” sê Frans, “ek gaan nie toelaat dat sy sonder een ry nie!”

  Daardie aand lê hy op sy bank in die eenvoudig huisie. Groot reënwolke het laat die middag begin opstapel, die lug gevul met wolkkastele..Silwer sweepslae het oor die  hemelruim gekronkel, en die rante het weerklink met bulderende donderslae. Die eerste druppels het begin val oppad na sy huisie, en hy het stadig geloop, opgekyk, en toegelaat dat hy deurnat word. Hy lê kaal bolyf met die deur oop, en verkneukel hom aan die druisende dans van druppels op die sink dak. Dit stroom in swaar blink strale, trommel jubelend op sy geute. Die reuk van skoon lug en vars nat plantegroei vul sy kamer.

  Hy lê met gedagtes aan Adri. Hulle ontmoeting, hoe hulle begin uitgaan het, die eerste soentjies, die manier waarop hulle so goed by mekaar gepas het.

  ñ Ruk nadat hy op die plaas aangekom het, na die nag in die bos, het hy een dag terwyl hulle in die veld was, sy obsessie met pornografie aan oom Niklaas bely, hulp gevra. Oom Niklaas het sy hande gevat, en ernstig ingetree vir Frans, die bose bestraf. Die Teenwoordigheid van God was daar, so sterk, dat hulle skaars kon praat. Daarna het die stemme en wellus hom alleen gelaat, en hy voel vry van die dringende gedagtes en begeertes wat hom in soveel moeilikheid laat beland het, en sy lewe verwoes het.

  Hy het vir ñ Vigs toets gegaan, en was dankbaar en verlig om te weet dat dit negatief is. Hy het dit een aand aan Adri oor die foon genoem, sodat sy kon weet, en ophou om haarself te bekommer.

Frans skets ñ moontlike scenario in sy kop. Hoe hy gaan stap met Adri, haar om haar skouers vat, vir haar sê dat hy verlang. Maar sê nou sy jak hom af? Sy manlike ego sal dit moeilik kon verdra, alhoewel hy dit ruiterlik verdien. Hy sug. 'Vader is in beheer. Dit sal wees wat dit moet wees.'

 

30

 

 Tante Johanna is besig om reg te maak vir die  seisoen. Dit is haar eerste Kersfees op Eden, en sy is opgewonde. Nou dat sy weer aan die sy van haar man staan, met al die regte en voorregte wat daarmee gepaard gaan, en terug op ñ plaas daarby, is sy in haar element.

  “Nou goed Lena,” sê sy. “Doen gou die huis klaar, en kom so gou as moontlik kombuis toe. Ek sal solank die vleis bewerk, en dan moet jy die perskes kom uitsorteer vir konfyt, en inlê perskes. Sit vir my die gaasrakke uit buite, asseblief, want ek wil rolperskes ook maak.”

  Sy vee haar kort breë hande aan haar voorskoot af, stap in die vol spens in, kyk krities na die rakke.

  'Ingelegde perskes, tamatie en vye konfyt. Piekels en ingemaakte beet. Die waatlemoenstukke is ook genoeg, dit is my man se gunsteling. Sal moet koesisters bak, almal hou daarvan. Die krismiskoek en poeding is al ñ ruk reg. Goed dan.'

  Sy glimlag vir die swart vrou, vat haar gemoedelik aan die skouer. “Môre moet ek nog ñ paar sakke meel gaan koop, en die anys is op. Dan kan jy weer vir ons die blikke volmaak, almal hou van Lena se beskuit. Het jy die proppe van die kênfroot bottels gesteriliseer? Jy weet dis belangrik, anders muf die konfyt.”

  Lena lag, skud haar kop. Sy is netjies uitgevat in ñ blou uniform, met ñ skoon voorskoot. Sy het extensions in haar hare, en ñ vol boesem. Haar selfoon is handig in die diep gleufie gestoor.

  'Hierdie nuwe Meddem! Ai!!' Eintlik is dit vir haar ñ verligting, want sy moes al die jare alleen die huishouding op haar skouers dra.

  Haar kleinkind hang aan haar bene..sy groot swart ogies staar na tante Johanna. Die neusie loop. “Wag staan stil,” sê sy, en vee geduldig die gesiggie af.

  “Het hy al sy pappies geëet, Lena? Dan kan hy nou maar ñ koekie kry. Hy lyk vir my vaak, lyk my jy sal hom weer moet abba, nê Gogo?”

  Die dag snel verby, en die Groot Oupa staanklok in die gang is half uitasem met die ure wat so vinnig aangekondig moet word. Die twee vrouens werk goed saam as ñ span. Die boervrou merk haar lysie af. “Goed dan, dit is gedoen. Môre is nog ñ dag.”

  Daardie nag het Johanna ñ droom oor Niklaas se bul. Sy sien helder die rooi kwaai oog, die groot spiere en hoor in haar droom sy woedende geskal. Verder is niks duidelik nie, en toe sy omdraai in die vroeë oggend, voor dagbreek, en haar arm oor oom Niklaas se lekker ronde magie sit, vra sy vir hom, so half aan die slaap, “Niklaas, is als reg met jou diere? Die bul, ek het gedroom.”

 

31

 

 Igna is op Heathrow met Jana. Hy staan en wag om in te boek. Hy het sy groot rugsak by hom, en ñ handtassie vol presente. Sy baard is vol en dik, met ñ rooierige skynsel. Jana hang aan hom, lyk pragtig en deemoedig. Sy streel oor sy baard, trek sy dik baadjie reg.

  “Ek is jaloers,” sê sy, “môre loop jy in ñ kortbroek.” Hy glimlag vir haar, knipoog. “Ek wens ek kan jou weer in ñ kortbroek sien!” Sy glimlag skalks, soen hom op sy neus. “Dankie vir die kompliment. Jy beter gaan kyk of daar ñ ordentlike Internet kafee op Heidelberg is, okei, ek wil gereeld met jou praat. En wanneer jy terugkom verwag ek ñ pak vol lekkernye, verstaan jy my mooi? Veral koesisters, dit is my all time favourite.”

  Die ry word korter en dit is amper Igna se beurt. Hy sit sy bagasie neer, omhels haar. Hou haar teen sy bors, soen haar op haar kop, druk haar styf. “Wag vir my,” sê hy, “wag vir my.”

  Hy waai vir oulaas voor hy deurgaan na die volgende lokaal. Hy gaan deur sekuriteit, en glimlag skeef toe ñ teatrale ou dame hand en tand sweer sy het niks om te verklaar nie, en dan besef dat die groot beltgespe aan haar baadjie die bohaai veroorsaak het.

  ñ Musikant met lang hare stap deur, dra sy ghitaar in ñ sak op sy rug. 'Hy lyk ñ bietjie soos Wikus.' Igna frons. Dit is vir hom ñ krisis, hierdie situasie met sy ma en nuutgevonde pa. Hy is nie heeltemal seker hoe om dit te handteer nie.

  Hy glimlag, dink aan Mark, en die wêreld van kindwees wat vir hom oopgeval het. Die vriendskap, kameraderie, geborgenheid. 'Wie sou nou ooit kon dink?'

  Hy staan onder die elektroniese bord, maak seker waar hy aan boord moet gaan, en gaan soek ñ koffiewinkel. 'Nog baie tyd om te wag, sal vir Jana nog ñ sms stuur.'

 

32

 

Mamsie,” sê sy opgewonde. “Ek is bly ek gaan boots ook kry, Ma weet. Regte perdry boots, mens moet mos die regte outfit hê, wat sê Ma?”

  Vir dae lank praat Bianca van omtrent niks anders nie. Adri glimlag, en sit haar hare agter haar oor. Sy het dit die laaste paar maande laat groei, en dit is nou in ñ kort geveerde bob gesny. Dit pas haar goed. Sy lyk jeugdig en tog chic.

  “Onthou ons gaan net vir agt dae my Pop, jy hoef nie jou hele klerekas saam te bring nie. Onthou daar gaan ander mense wees, en ons wil nie oom Niklaas se huis in ñ negosiewinkel omskep nie.”

  “Ma, ek dink ek gaan ñ nuwe bikini ook nodig kry. Pa sê hulle het die dam geskrop en weer volgemaak. Ek wil elke dag swem, fit bly Ma weet, vir my self defence ook. Oom  Johan sê fiksheid is van kardinale belang. Moet Kobus kos saambring, sy ma wil weet, en Michael wil weet of hy ñ slaapsak moet saambring, wat sê Ma?”

  Hulle eet ñ take away, want Adri wil fokus op die pak.

 Sy het ñ mooi katoen hemp, groen met blou sakke, vir Frans gekoop. Hy het dit sekerlik nodig op die plaas. Sy wonder of sy die stopgoed moet saamvat, dalk is daar iets wat sy moet regmaak. Sy peins. Sal moet sonskerm kry, vir haar en Bianca wat so maklik brand.

  Sy sien uit daarna om Frans te sien, maar is vol onsekerheid. Haar hart was vergruis, maar sy is besig om stadig te genees. Sy word gepla deur visioene van die dinge wat hy moontlik aangevang het, en dit walg haar, maak haar rasend jaloers. Sy het daardie fotos met venyn van die rekenaar afgevee, maande gelede al, en sukkel om hom te vergewe. 'Gelukkig het hy nie Aids gekry nie, dankie tog vir dit.'

  Ten spyte van die negatiewes verlang sy na hom, en sy aanraking. “Help, liewe Abba, help,” sug sy, vou die hemp netjies op, en plaas dit versigtig in die tas.

 

33

 

 Mika se winkel lyk vrolik. Sy het Kersversierings opgesit, en ñ tafel buite geplaas met ditjies en datjies wat mense maklik kan bekostig. Die kliënte het dit baie geniet, en Mika moes gereeld die voorraad aanvul. Meeste mense het al hulle inkopies gedoen, maar vanoggend is daar nog ñ hele paar.

Haar tasse is klaar gepak, en sy gaan eenuur sluit. Cindy en Michael ry saammet haar, en Cindy se ma gaan hulle by die woonstel aflaai.

  Die winkel het uitstekend gedoen, en sy is aangenaam verras. Sy het ook ñ paar kunswerke verkoop, en dit gee haar groot plesier. Sy het ñ sketsboek en ñ paar potlode ingepak, ook houtskool. 'Sal maar die kamera saamvat en foto's neem, dan kan ek dit later edit en kyk wat ek kan gebruik.'

  Die oggend gaan vinnig verby. Prudence is al met vakansie, en Mika is alleen in die winkel. Sy lyk feestelik in ñ kort rooi rompie, met ñ wit geborduurde bloesie. Haar hare hang los, en sy het ñ blos op haar wange.

  'Eintlik is dit té warm hier binne,' dink sy, 'sal net gou ñ bietjie afkoel.'

  Sy gaan staan voor die groot wit waaier, wat op high gestel is, lig haar hare van haar warm gesig. Die koel windjie verfris haar, en waai haar romp op soos ñ oop sambreel, wys haar goedgevormde bobene.

  “Marilyn Monroe, I presume?” sê ñ stem van die deur af. Haar hart ruk, sy laat val haar hare. “Wicus, kom in, ek het jou nie verwag nie?”

Hy stap in. Hy is maerder, en sy broek sit losser aan sy lyf. Sy sien dadelik met haar kunstenaarsoog dat daar ñ paar prominente silwer strepe in sy hare bygekom het, en die kepe om sy mond is dieper.

  “Hallo Meisiekind,” sê hy, en vat haar hand. “Hoe gaan dit?”

  Haar knieë is lam, sy voel week en teer. Hy lyk moeg, seer.

  “Wil jy iets hê om te drink, Coke, tee, ñ melkskommel?”

  “ñ Vrugtesappie as jy het?”

  Mika stap na die deur toe, kyk op haar sel. 'Kwart voor een.' Sy draai die bordjie om. Closed, glim die goue letters.

  Sy stap deur na die ateljee met die sappie, waar Wicus wag.

  “Jou werk is darem vir my uitstaande, jou sensitiwiteit is vir my uitsonderlik. Hier werk jy met die olie of dit waterverf is, die effek is so vars.”

  Hy kom staan voor haar, vee oor haar wang.

  “Ek wou jou darem voor Kersfees sien, jy weet? Ek't verskriklik verlang. Hier,” en hy haal ñ klein pakkie uit sy broeksak, “maak dit môre oop. For old times sake, oukei?”

  Mika sluk aan haar trane, kyk onder nat wimpers na hom. “Dankie,” sê sy sag, “jy moes nie. Ek het nie vir jou iets nie.” “Sjjjuuut. dit is nie waarom dit gaan nie. En dan, daar is iets wat ek moet sê. Jou pa het my en my maat gevra om op Oukersaand op die plaas te kom speel. Hy het my gisteraand gevra. Is jy okei met dit?”

  Mika dink ñ oomblik na. “Natuurlik, jy is altyd welkom op Eden, jy weet mos.”

  Hulle staan na mekaar en staar, met soveel wat ongesê bly.

  “Ek gaan nou loop. Geniet jou dag môre, ek dink aan jou. Ek ry nou na my ouers toe, wil vir die oumense gaan kuier, ek mis hulle. Hulle word nou oud, mens weet nooit wanneer jy hulle weer gaan sien nie.”

Hy plaas ñ soentjie op sy vinger, blaas dit vir haar van die deur af. “Sien jou Oukersaand.”

 

 


Submitted: June 30, 2013

© Copyright 2020 Huldah. All rights reserved.

Chapters

  • Facebook
  • Twitter
  • Reddit
  • Pinterest
  • Invite

Add Your Comments:

More Religion and Spirituality Books

Other Content by Huldah

Book / Religion and Spirituality

Book / Religion and Spirituality